Spring na inhoud

Wie Is Ons

Wat Ons Glo en Bely

Ons gemeente staan op die fondament van die Skrif soos saamgevat in die Drie Formuliere van Eenheid.

Die Skrif as enigste reël van geloof en lewe

Ons glo dat die Bybel — die Ou en Nuwe Testament — die volledig geïnspireerde, onfeilbare en gesaghebbende Woord van God is. Die Skrif is die enigste reël van ons geloof en lewe, en alle leer en lewe word aan die Woord getoets.

Die Drie Formuliere van Eenheid

Saam met die ander Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika onderskryf ons die historiese belydenisskrifte wat as die Drie Formuliere van Eenheid bekend staan. Hierdie belydenisse vat die hoofwaarhede van die Skrif kort en kragtig saam.

1. Die Nederlandse Geloofsbelydenis (1561)

Geskryf deur Guido de Brès as 'n openbare belydenis van wat Gereformeerde gelowiges glo. Dit behandel God, sy openbaring, die mens, Christus, die kerk en die laaste dinge in sewe-en-dertig artikels.

2. Die Heidelbergse Kategismus (1563)

'n Lieflike, persoonlike onderrigboek wat oor 52 Sondae die troos vir die gelowige uitspel: "Dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe, nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser Jesus Christus behoort."

3. Die Dordtse Leerreëls (1618–1619)

'n Verheldering van die genade van God in die verlossing — God se uitverkiesing, Christus se voldoening, die werk van die Heilige Gees, en die volharding van die heiliges.

Die ekumeniese belydenisse

Ons aanvaar verder die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicéa en die Geloofsbelydenis van Athanasius — die belydenisse waaraan al die Christelike kerke deur die eeue heen vasgehou het.

Die kerk en sy roeping

Ons glo die kerk is die liggaam van Christus en bestaan waar die Woord suiwer verkondig word, die sakramente reg bedien word en kerklike tug toegepas word. Ons roeping is om God te verheerlik, mekaar in geloof op te bou en die evangelie aan die wêreld bekend te maak.

Wil jy meer lees? Besoek die GKSA-webwerf vir die volledige teks van die belydenisskrifte.